Gebedsnieuwsbrief Eitenne Maritz nov. - jan. 2011
Liewe Gebedsvriende
Ons het ‘n wonderlike tyd saam met Arjan Baan en sy span in Nederland gehad, en loof die Here vir die groot getalle mense wat bereik is met die Woord. Ek loof die Here vir Arjan wat op dieselfde dag as Graaf Zinzendorf gebore is en dieselfde passie as Zinzendorf het, naamlik om die evangelie van die bloed van Jesus aan almal te verkondig. Ek het ook in Nederland die nuwe boek van Leen van Valen oor Zinzendorf gelees: ”Een bradent hart voor Jesus”. Ek wil julle aanmoedig om meer oor Zinzendorf te lees. Wat my opgeval het, was die feit dat hy altyd versigtig was om die klem van Christus af te verskuif na iets anders. Daarmee saam het hy altyd probeer om die eenheid tussen gelowiges te bevorder. Die groot nalatenskap van Zinzendorf was egter sy sendingywer. Hy het sy lewe daaraan gewy om sendelinge uit te stuur en te ondersteun. Ek het opnuut weer besef dat ons grootste passie moet wees om Jesus lief te hê en in Hom al ons heil en vervulling te vind. Maar daarnaas moet ons ‘n brandende hart hê vir die redding van siele en die opbouing van die gelowiges in hul geloof. Die Here het weer vir my bediening in SA die opdrag gegee: ”Laat my lammers wei, pas my skape op en laat my skape wei”. Die Here het my geroep om sy skape op te pas teen wolwe in skaapsklere wat binne die kudde probeer inkom en hulle verlei met dwaalleer. Dwaalleer is besig om oral in die wêreld teen ‘n geweldige spoed die ware gelowiges te infiltreer. Jesus het voorspel dat in die eindtyd dwaalleer so erg en misleidend sal wees dat die misleiers selfs sal probeer om die uitverkorenes te mislei (Mat. 24:24). Hierdie valse profete sal in die Naam van Christus geweldige wonderwerke doen.
Ek het my die laaste tyd telkens verbaas hoe maklik gelowiges hulle laat mislei. Vandag hoor ek weer van ‘n vrou wat by ‘n kerk, wat bekend is dat hul versigtig is vir misleiding, oor die gawes van die Gees gepraat het. Sy het die gawes in ‘n alfabetiese lys ingedeel en die meer as 400 vrouens gevra om die letters van hul name wat ooreenkom met die letters van die gawes van die Gees te vergelyk. Daar waar die letters baie ooreenstem, is dan die gawe van die persoon. Net een vrou het onderskei dat dit ‘n okkultiese metode is. My hart is seer oor ‘n ander jong prediker wat eens die evangelie suiwer gepreek het, maar nou al meer verkondiog dat ons ”lewe moet spreek” en “positiewe dinge moet spreek” en ons “positief moet instel” om gelukkige christene te wees. Selfs die geliefde Angus Bachen wat in ‘n groot mate die evangelie suiwer bring en baie mens tot bekering lei, het ‘n boek daaroor geskryf en verkondig dit. Gelukkig verkondig hy ook dat mens die wil van God moet soek en aan die einde van jouself moet kom. Hierdie tweeslagtigheid verwar mense. Die Bybel leer net van geloof en ongeloof, vlees of gees en ken nie eers die New Age-terme van positief en negatief dink of spreek nie. In Nederland kry mens weer die verskriklike dwaalleer dat mens nie mag reageer op die aanbod van genade nie. As jy Jesus aanneem, is dit jou eie werk en jy het Jesus ”gesteel”. Jy moet wag tot God jou kom bekeer. Jy kan ook nie net in die geloof Jesus en Sy kruisdood aanvaar nie. Jy moet eers deur geweldige voorafprosesse van sieklike selfondersoek gaan. Dit is vir ons ‘n voorreg om aan daardie mense die volle evangelie te bring: ”Glo in die Here Jesus en jy sal gered word . . . !” (Hand. 16:31) Ons verduidelik aan hulle dat as jy gewillig is om na Jesus te kom, het God klaar in jou gewerk om te wil en dan kan jy kom (Joh. 6:37). Baie kom so tot geloof en bekering. By die laaste konferensie van oor die 1200 mense het die Here Sondagmiddag op ‘n sagte, maar kragtige wyse deurgebreek toe Ds. Johan Botha gepreek het. Die aand het ek oor volle oorgawe gepreek en gelei gevoel om kragtig die oproep te doen om die laaste ding oor te gee wat hulle van die volheid van die Gees af weghou. Die Here het baie daardie aand gered en ook baie ander tot volle oorgawe gebring. Die atmosfeer wat so heerlik dat ek gevoel het die konferensie moet vir ewig aanhou. Maar ná die berg van verheerliking moet die toetse in die laagtes weer kom.
My volgende uitsendings op Kruiskyk is Desembermaand - elke Donderdag om 16h30 - op “Brood uit die Bybel”, en weer in Februarie - Sondae om 19h00 - op die program “Heart Cry”. Intussen saai Ds Johan Borha en Dr Francois Car op dieselfde tyd uit.
Ons nooi ook vir u na die familiekamp op Winkelspruit vanaf 25 Desember 2010 tot 5 Januarie 2011. Daar is ‘n oggendbybelstudie en ‘n aanddiens elke dag. Deur die dag kan almal verder die see geniet. Dit kos R1700 per dag. Vir navrae kan u Dr Cornu Pretorius skakel by 018-7875524. U kan al die inligting op www.vcsv.co.za kry. Kontak Izani en Lan Truter by 0833254557 en 0727103273.
• Ons vra dat u sal bid vir die vrug van die uitreik in Nederland. Bid dat die bekeerlinge sal vasstaan as hulle deur predikante en ouers vervolg word. Bid dat hul ook in hul ywer vir die Here bewaar mag word teen dwaling en hul oog op Jesus sal hou en in Hom al die volheid van God sal soek.
• Bid ook vir al ons dienste hier in Koppies–Weltevredegemeente gedurende November en Desember. Daar is ‘n groot verlange in my hart dat die Here ons weer opnuut hier sal besoek met heerlike en kragtige werkinge van die Heilige Gees (Jes. 44:3).
• Loof die Here saam met my vir ‘n kerkraad en gemeente wat by ons staan en baie vir ons bid.
• Ek dank die Here dat die leiers in ons gemeente sterk daarop gerig is dat die evangelie moet uitgaan na die uiteindes van die aarde. Daar is nog 3300 mensegroepe wat nie ‘n sendeling of ‘n kerk onder hulle het nie. Dit is ongeveer 540 miljoen mense.
• Laat die Here jou hart aan die brand steek om, soos Zinzendorf, alles in jou vermoë te doen om siele te wen. Lees bidden Open. 14. Dit is nou die laaste fase van die insameling van die oes. Ons lees in Luk. 16:9 dat as ons finansieël bygedra het tot die redding van ‘n persoon, hulle ons in die hemel sal verwelkom. Ook júlle wat bid as ons gaan, sal deel in die loon. Wat ons vir die Here gedoen het, sal ons volg na die hemel (Open. 14:13) Halleluja! Twee van my seuns is al by Jesus! Waarom is ek en jy nog hier? Ons taak is nog nie afgehandel nie. Gebruik elke geleentheid om siele te wen. Sorg dat jy goeie lering kry en die Woord in sy volle verband verstaan, sodat jy nie dwaal nie. Baie wil vandag vir die Here werk en selfs preek, maar ken nie die Skrifte nie. Dit is gevaarlik om te sê “die Here sê so”, en dit is nie die Here nie (Jer. 23:25–32).
Die sorge en plesiere van die lewe maak baie gelowiges in SA lou. Die meeste mense wat deel is van hierdie wonderlike beweging van die Heilige Gees in Nederland is tussen 18 – 35 jaar oud. Dit is wonderlik om hul vuur en dodelike erns te sien. Geen opoffering is vir hulle te groot nie. Een van hulle het tydens die laaste konferensie, nadat hy laatnag saam met mense gebid het om na Jesus te kom, met blydskap op sy gesig uitgeroep: ”Die hemel het vanaand vol geword!” Mag ons in die laaste dae wat voorlê alles insit om die bruilofsaal van die Lam vol te maak. Gaan uit op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind na die bruilof! Vreugdevolle Christusfees !
Etienne Maritz en familie.
Activiteitenkalender
Nieuws
Op de hoogte blijven van HeartCry?
Schrijf u nu in voor onze nieuwsbrief.



